FOTO'S EN STORIES: GLEN, ANDRIES EN GALASIERS

FOTO'S EN STORIES:  GLEN, ANDRIES EN GALASIERS

 

 

Ons het nie veel van 'n keuse gehad nie! Ons voorraad was uitgeput.  En as ywerige amateur fotograwe het die behoefte om visuele beelde vas te le, die oorhand gekry oor die nie so gunstige fotografie omstandighede. Dit was Saterdagoggend.   Ek en Emil het die pad gevat.  Die N1 het ons  na die R30 geneem en 'n afdraaipad het 'n vergange wereld voor ons laat ontvou:  ons het ons op Glen Stasie bevind ...

 

Of eerder, dit wat oorgebly het.

 

 

 

Een van die geboue wat die liefdelose verwaarlosing van tyd weerstaan het, het ons nader gelok met die belofte van 'n storie wat sou ontvou.  Dis waar ons Andries ontmoet het.

 

Terwyl ek en Emil besig was om die gebou digitaal vas te le, het ons 'n figuur in die erf gewaar.  Instinktief het ons geweet dat hierdie 'n geleentheid is wat ons nie kan laat verbygaan nie, maar ons was huiwerig-verlee om die man te nader.  Met moed wat ons begewe, het ons in die kar geklim en begin wegry.  Na beraadslaging en moed bymekaar skraap het ons egter 'n  paar meter later omgedraai.

 

Die man het ons vriendelik-skaam by die hek ontmoet en homself bekendgestel as Andries. Hy het ons binnegenooi:  "Verskoon tog maar hoe dit  hier lyk.  Ek het nie mense verwag nie." 

 

 

Nadat Emil  die rede vir ons besoek aan hom verduidelik het, het Andries selfbewus ingestem om model te speel. Hy kom van Springs, het hy vertel.  Dis net hy en sy kat wat hier bly, met Radio Rosestad as bykomende geselskap. 

 

Ek kon nie anders as om die Bybel  langs die krat waarop hy gesit het, op te merk nie. Ek het hom gevra of hy dit op sy skoot sal hou terwyl ons foto's neem.  Galasiers is sy gunsteling boek in die Bybel, het hy Emil se vraag geantwoord en sonder aanmoediging met eerbied en oortuiging hardop daaruit begin voorlees.  Sy kat het aandagtig saam geluister.

 

  

Andries het geleidelik begin ontdooi en moedig in die kameralens gestalte gekry.

 

 

 

Alle fotosessies kom egter tot 'n einde. So het dit ook tyd geword vir my en Emil om vir Andries, met 'n ietsie vir die honger, te groet.  

 

Daar was 'n nadenkende stilte in die kar toe ek en Emil begin wegry het, getroos in die wete dat Andries se innerlike versterk sal word.

 

Dankie Andries vir ons versterking en lewensles ...

Views: 496

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Rudi Kleynhans on November 2, 2011 at 8:56am
Dankie, Martie.  Dit was 'n besonderse ervaring gewees ... ek moes net die storie deel.
Comment by Martie Venter on November 2, 2011 at 8:19am
Rudi, dankie vir hierdie wonderlike stukkie fotojoernalistiek waarmee jy soveel vir ons ontsluit - nostalgie, deernis, dankbaarheid en geloof...
Comment by Rudi Kleynhans on November 1, 2011 at 11:39pm
Dankie, Kobus!
Comment by Annemari Coetser on June 23, 2011 at 9:32am
Baie jare gelede, toe Glen nog 'n werkende stasie was, het ek dikwels daar by vriende gekuier. Onlangs, op 'n nostalgiese reis deur die Vrystaat, het ek weer daarlangs gegaan en amper presies dieselfde foto's as jy geneem! Ek het ongelukkig nie vir Andries raakgeloop nie. Ek was 'n spoorwegkind en het al byna al die stasietjies waar ons gebly het, gaan besoek en foto's geneem. Die verval is hartseer.
Comment by Johan van Zyl on June 16, 2011 at 5:12pm
Het weer gekyk na dit was al op daardie stasie maar is "many moons ago" ons praat van 1978 en 1979 toe ek my diensplig in Tempe by 1STB en Pantserskool gedoen het. Dit was nog in die leker ou dae weereens dankie vir dit Rudi
Comment by Rudi Kleynhans on June 15, 2011 at 3:22pm
Ek is bly jy het dit van waarde gevind, Gerhard!
Comment by Gerhard Beukes on June 15, 2011 at 9:37am
Rudi , baie goed gedoen en dankie dat jy dit met ons (my) gedeel het. ja nee laat mens met ander oe na ons eie lewens kyk.
Comment by Rudi Kleynhans on June 13, 2011 at 2:33pm
Dankie vir almal se reaksie en terugvoer!
Comment by Dana Pienaar on June 13, 2011 at 12:10pm
Dankie Rudie. Daar gaan soveel dinge deur my gedagtes as ek na hierdie fotos kyk en die storie lees dat ek net weer besef hoe wonderlik die digitale medium is om al die fasette wat die lewe na ons kant toe gooi, vas te lê en met ander te deel. Puik gedaan.
Comment by Annelise on June 13, 2011 at 10:49am
Dus sulke stories wat trane in 'n mens se oë bring en besef ons waardeer soms nie die baie wat ons het nie, en vergeet heeltemal van die bybel.

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html