Leer fotografie op 'n lekker prettige manier
Fotografie verander ‘n mens. Of ten minste verander dit jou persepsies. Dis asof die kameralens jou wêreldbeskouing verbuig en jy dinge anders begin beleef. Want ... jy fokus!
“Waar was hierdie filosofiese insigte jare gelede gewees toe ek “clueless” in die Wysbegeerte klas gesit het?” wonder ek in my enigheid. Ek het niks van die vak gehou nie en dit so vinnig as moontlik gestaak (Sekerlik tot my dosent se verligting!). 'n Wildtuinvakansie het ook altyd vir my in die Wysbegeerte-kategorie geval. Verstaan my mooi, ek staan daagliks verwonderd oor die Skeppingsprag, maar ek kon nog nooit die sin daarvan sien om vir ure rond te ry opsoek na diere nie. Veral as hulle die dag besluit het om wegkruipertjie te speel.
So het ek vir die beste van my getroude lewe ook wegkruipertjie gespeel as die voorstel vir ‘n Wildtuinvakansie geopper word. Maar hierdie Junie-vakansie is ek deur die vroue in my lewe geblok. Dit was ‘n verbete komplot: Oupa en Ouma wil vreeslik graag die meisies op ‘n karavaanvakansie in die Wildtuin neem. En ons sal hulle tot daar moet vat, anders is die afstand vir die oues te veel. Ek het my beste probeer en met die mees kreatiewe verskonings vorendag gekom, maar ‘n mens stry 'n verlore stryd teen kinderlike opgewondenheid en afwagting. Die vakansie word gereël: Die kinders gaan saam met die oues en weens ‘n gebrek aan verblyf in die Park, gaan ek en my vrou in Komatipoort tuisgaan. “Ten minste sal ek kan foto’s neem,” het ek myself getroos!
Na ‘n gepak en geskarrel is die dagreis verlede Saterdag aangepak. Skaars uit die stad uit het my volgende kamera-avontuur langs die N1 begin. Die mooiste landskaptonele het my gekoggel om te stop.
Die drietjies in die kar was verdraagsaam-geduldig met die oponthoud van my kameraklik. Die kilometers het dorpe geword en naby sonsonder het die kar se enjin stil geword in Komatipoort. Oupa en Ouma se karavaan het kinderstemlewendig geword, en ons chalet vreemd stil.
Na ‘n luilekker Sondag het ek en my vrou Maandagoggend die onvermydelike Wildtuin dagbesoek aangepak. Die Komatirivier het ‘n asem-intrek-mooi spookasemverrassing vir ons oppad gereed gehad.
Oorgehaal om wegkruipertjie te speel is ons in die Park verras met ‘n dierekarnaval. Dis asof al die diere pad toe gekom het om die Wildtuinvreemdeling van naderby te kom beskou. (Dit was gebedsverhoring, het my vrou later gebieg!) Soos Noag van ouds het ek die diere getel, en die Groot Vyf tot by vier. Dis net die leeukoning wat ‘n oudiënsie geweier het.
Ek het myself in my kamera verloor.
En ek die Amarula-olifant gevind.
Met die laaste sonstrale wat gegroet het is ons vriendelik deur ‘n erewag rooibokke speels uit die Edenpoort gelei.
Weereens gevorm deur my lens.
Comment
Pragtig Rudi Ek se nog jy is 'n "ou" pro Rerig mooi foto's Ek stem dat dit maar 'n vervelige besigheid in die Wildtuin kan wees. Wens ek kan ook die resep kry om sulke "sagte foto's" te neem.
Dankie vir die inloer, Karien. Die "sagtheid" van die water in die foto hierbo was agv wasem wat op die water gevorm het. Dit was 'n ysige oggend gewees. 'n Mens kry kan egter ook dieselfde effek kry met "long exposure" fotografie (veral by die see waar daar baie beweging is) deur die sluiter vir 'n lang tydperk oop te hou.
Rudi, dis seker 'n dom vraag, ma hoe kry jy dit reg dat jou foto so "sag" lyk? Die foto van die water onder die burg lyk amper of dit so sag is? Dit gee so foto so ongelooflike effek.
Dankie vir almal se positiewe reaksie!
© 2021 Created by Igno van Niekerk.
Powered by
You need to be a member of Fotoskool to add comments!
Join Fotoskool